Welcome To Jeffreys Bay

Ramp nabetragting

Lourens Antoinette 

Vanoggend lê ek wakker en in my gedagtes word ek teruggevoer na baie jare gelede, die tydperk toe die Merriespruit mynramp te Virginia plaasgvind het. ‘n Slikdam se wal het gebreek en ‘n gedeelte van die dorp saam met die modderwater weggevoer. (22 Februarie 1994)

Dit het in die nag plaasgevind en daar was groot lewens verliese.

Ekself was nie daar met die opruiming betrokke nie, want Februarie was my en Louwtjie se vakansie maand destyds toe ons nog nie kinders op skool gehad het nie. Ons het op daardie stadium angstig die nuusberigte gevolg, en het ‘n maand later eers die verwoesting kon gaan besigtig. Ons en my ouers het so bietjie deur die Weskus getoer gedurende die tydperk van die rampspoedige nag.

Agterna het van my kollega staaltjies gedeel van modder waarin hulle weggesak het, vermistes waarna hulle moes help soek. Min slaap, koue, nat omstandighede. Agterna moes hul uniforms weggooi wat totaal geruineer was. Mynwater bevat dikwels sianied.

Ek het vele verhale gehoor van hoe die Here hul gedra het die nag, want van hulle het heelnag saam met ‘n helikopter gevlieg, waar kragdrade gespan was, wat in die daglig al ‘n ernstige gevaar inhou. Hulle was blykbaar heelnag daar heen en weer met soekligte.

My gedagtes huiwer by 1988, toe die Vrystaat erge vloede beleef het. Dit het dae aaneen gereën. Ons het een Sondag na ete Bloemfontein toe gery, en wou net vinnig by my swaer se familie lede inloer, en daar reën ons toe vas, ons kon eers die volgende Dinsdag weer die Modderrivier veilig oorsteek.

Ons het Bloemfontein blykbaar net binne gery, toe sluit hul die brug waaroor ons moes terug, agter ons, ons was op daardie stadium salig onbewus daarvan.

Ergste van alles was, ons het op ‘n pad gery wat aangedui het dié pad is gesluit, en daar land ons waar ‘n damwal gebreek het, waarvan ons ook onbewus was. Ons motor het letterlik vasgesit en gedryf in die water, en Louwtjie en sy swaer moes hom oplig terwyl ek probeer stuur. Die water het my en ons voertuig liggies meegevoer. Dit was angswekkend.

Water het by die motor ingestroom, en ons het net die klere aan ons lyf gehad, ‘n kam en ons onderskeie beursies. Ons moes noodgedwonge op ‘n stadium winkels toe vir nog ‘n stel droë klere, ‘n waslappe, tandeborsels, pasta, en handdoeke.

Dit het so gereën dat wanneer jy gebad het, en die prop uittrek, stoot die water weer dadelik terug in die bad in. Gelukkig vir ons was my swaer se familie baie gasvry.

Asof dié rampspoedig weer nie genoeg was nie, was ek veronderstel om op bystand te wees by my woning. Ek moes toe met ‘n rooi gesig die polisiestasie laat weet hul sal my moet verskoon by die werk. Gelukkig vir my, het ons gasheer my stasiebevelvoerder daardie jare geken, en het hy sommer namens my verskoning gemaak. Hulle was glo bure op ‘n vroeër stadium in hul lewens. (Die wêreld is klein.)

Terug by die Kouga area, se natuurramp/vloed van verlede week. Ek lees dat ‘n vrou sê sy het gesorg dat hul water en kos het, die kinders legkaarte en boeke om hulself besig te hou terwyl dit reën. Sy het selfs die skool inkennis gestel dat hul heel moontlik nie daar sal kan uitkom nie, en tog was dit alles tevergeefs.

Wat moet wees sal wees ne? Niemand kon voorsien dat die omvang van die mallende, kolkende watermassa so erg sou wees nie. Die bruinwater het bly styg, en hul moes ontruim, ander moes noodgedwonge gered word.

Mense besef nie altyd dat selfoon torings onttoereikend is gedurende goor weer nie, en dat dit menslik is om te dink dat die vloedwater nie so erg gaan wees nie.

Plaasmense voel ook verantwoordelik vir hulle diere wat steeds versorg moet word.

Hierdie keer was meeste van ons weereens net toeskouers ten opsigte die gebeure rondom ons. Ons het warm onder ‘n kombers opgekrul met stomende koffie, en ander dalk selfs met ‘n glas rooiwyn, voor ‘n kaggelvuur.

Nuuskierig het ons die drama op Facebook en televisie gevolg. Mens beleef selde dat soveel drama op jou voorstoep afspeel.

Dié omvang van die ramp gaan egter nog lank ‘n rippel effek hê op die omgewing, dié gemeenskap en die huidige geslagte, van al die plase, wat wel oorstroom het.

Teen Vrydag middag het ons gewaag om te gaan loer hoe dit lyk. Die omvang van die Gamtoosrivier het vir my met ten minste vier, of vyf keer verdubbel. Die water het steeds sterk gevloei, en groot hooibale het hulself in die klowe gedrapeer, waar die vloed hulle agter gelaat het. Stille getuienis van wat was.

Teen die naweek moes mens heimlik glimlag vir al die opportuniste wat pampoene langs die pad begin smous het, wat hul op die strand gaan versamel het, waar dit letterlik gratis uitgespoel het. Die spreekwoord lui mos, die een se dood is die ander se brood.

Nou ontstaan die vrae, wat vervang jy eerste? Wat is dringend, en wat moet wag. Slaggate pryk weer orals, almal het weereens iets om oor te kla.

Ek kan my net die slagoffers se vrees indink, as ‘n skielike reënbui weer uitsak. Die aarde is steeds versadig. Waarheen nou?

Vandag wil ek net sê, ‘this too shall pass.’ Ek glo aan gebed.

Dankie vir almal wat wel kon gaan inspring en help, hoe gering jy ookal dink jou bydra was. Dit was nooit ongesiens nie, jy het ‘n wesenlike verskil gemaak.

Ubuntu groete!

    Leave a Reply

    Your email address will not be published. Required fields are marked *

    Jeffreys Bay

    Jeffreys Bay Online is your go‑to hub for local news, community stories, and Eastern Cape updates. From breaking headlines to uplifting features, we bring readers the latest events, weather, and lifestyle highlights that matter most to the Kouga region. Our mission is to keep the community informed, connected, and inspired with content that reflects the vibrant spirit of Jeffreys Bay.
    Subscribe to our newsletter
    The latest news, articles, and resources, sent to your inbox weekly.
    Follow us on socials
    SUPPORT JEFFREYS BAY ONLINE! Innovation starts with a spark of inspiration. We rely on your support, whether subscription, donation or advertising, for independence, diversity and quality news and community initiatives.
    © 2025 - 2030 Jeffreys Bay Online. All rights reserved.